Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS – SONDAG 04 JANUARIE 2009

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word.

Oudio is ook beskikbaar via die web: www.sarl.org.za; klik op ARMI en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio via Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie, en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser vanoggend is (Naam en Roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 28,325, 14,235, 10,130, 7,066 en 3,695 MHz ESB, asook op 51,400, 438,825 en 1 297 MHz FM in die Pretoria-gebied. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik).

In die nuus vandag:

INSKRYWINGS VIR DIE 2009 TINUS LANGE 7066 TEGNIESE UITMUNTENDHEID-TOEKENNINGS WORD INGEWAG

NAMIBIESE BHF-/SATELLIET-DXPEDISIE HOPELIK TEEN 9 JANUARIE OP DIE LUG

LUISTER NA AMATEUR RADIO MIRROR INTERNATIONAL OP ‘N PODCAST

HUNTING LIONS VOLGENDE NAWEEK

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

INSKRYWINGS VIR DIE 2009 TINUS LANGE 7066 TEGNIESE UITMUNTENDHEID-TOEKENNINGS WORD INGEWAG

Inskrywings word ingewag vir die 2009 Tinus Lange 7066 Tegniese Uitmuntendheid-toekennings. Die toekennings word jaarlikse toegeken aan persone wat ‘n tegniese projek in een van die volgende kategorieë inskryf:

Ontwerp en/of konstruksie van projekte soos ’n voorversterker, SGV-brug, outomatiese ID-er, praktiese antenna-idees, maste, draagbare toerusting, kragbronne of enige programmatuur vir gebruik in amateurradio.

Daar is ‘n junior- en seniorkategorie. Die juniorkategorie is vir persone onder 25 jaar. ‘n Bedrag van R350 plus ‘n geraamde sertifikaat word aan die wenner in elke kategorie oorhandig.

Om in te skryf moet ‘n volledige beskrywing in artikelformaat met illustrasies en/of foto’s, gereed vir plasing in Radio ZS ingedien word. Fotos moet in JPG hoëresolusieformaat van ten minste 300 DPI wees. As grootte en massa dit toelaat, moet die fisiese item ingedien word vir beoordeling deur die beoordelaars. As dit nie prakties is nie, moet foto’s ingedien word. Die wenitems en foto’s sal ten toon gestel word tydens die SARL Nasionale Konvensie wat van 24 to 26 April in Kaapstad gehou word.

Skriftelike inskrywings kan per e-pos aan die SARL-Toekenningsbestuurder, Tjerk Lammers, ZS6P, gestuur word. Sy e-posadres is zs6p@iafrica.com. Dit moet voor 15 Februarie 2009 gedoen word. Reëlings vir die aflewering of koerier van die fisiese item moet met Tjerk, ZS6P, getref word.

NAMIBIESE BHF-/SATELLIET-DXPEDISIE HOPELIK TEEN 9 JANUARIE OP DIE LUG

Hal Lund, ZS6WB,laat weet dat reëlings vir die Namibiese BHF- en Satelliet-DXpedisie nog op dreef is. Daar is ‘n paar los dingetjies waarna gekyk moet word voordat die span op Dinsdagoggend 6 Januarie vertrek. Die span is een dag agter skedule maar dit sal die DXpedisie nie noemenswaardig beïnvloed nie.

Gebaseer op twee dae reistyd en een volle dag om minstens ‘n gedeelte van die toerusting op te stel, hoop die span om teen 9 Januarie RF in die lug in te stuur.

SA AMSAT het ‘n fonds gestig om donasies om die ekspedisiekostes te dek, te bestuur. Individuele radioamateurs en klubs word aangemoedig om ‘n bydrae te maak om te verseker dat die Namibiese geleentheid ‘n groot sukses is. Borgskappe kan in SA AMSAT se rekening met nommer 560 153 171 ABSA inbetaal word. Die takkode is 632 005. Alle borge sal vermeld word op www.amsatsa.org.za.

Die ekspedisie sluit in werking op ‘n klompie BHF-bande en -modusse. Die span word gelei deur HB9CRQ, een van Europa se top AMA-operateurs, en sal aard-maan-aardwerking insluit op 50, 144, 432 en 1 296 MHz.

Januarie is ook een van die beste maande vir troposferiese voorplanting agv. geutgeleiding in die Suid-Atlantiese Oseaan en gesoute tropo-operateurs sal ‘n ernstige poging van stapel stuur om die heel eerste 144 MHz-kontak oor die Atlantiese Oseaan te maak. Dave, N7BHC, ‘n boorling van Port Elizabeth, bedryf ‘n 144 MHz-baken vanaf die ooskus van die VSA in die rigting van Europa.

Satellietwerking word ook beplan en selfs met die gebruik van lae-aardomwentelende satelliete, behoort die ligging goeie dekking oor die grootste deel van Afrika en baie van die oostelike deel van Suid-Amerika te gee.

LUISTER NA AMATEUR RADIO MIRROR INTERNATIONAL OP ‘N PODCAST

Vanaf vandag sal Dick Stratford, ZS6RO, die program ‘Amateur Radio Mirror International’ dmv. ‘PODCAST’ beskikbaar stel.

“Podcasting” is waar ‘n mens kan inteken en wanneer nuwe MP3-lêers op die webwerf beskikbaar kom, sal die intekenaar se versamelingsprogram outomaties die jongste MP3-leêr aflaai. Daar kan natuurlik ook na die Podcastwebwerf gegaan word en daar na die MP3-leêr geluister word deur van oudiostroming gebruik te maak, maar “Podcasting” opwindend. ‘n Mens kan byvoorbeeld inteken en ‘n ARMI-program outomaties na jou selfoon aflaai en dan na die “podcast” luister wanneer dit gerieflik is.

Om toegang tot die Podcastwebwerf te verkry, besoek http://www.zs6ro.co.za/podcast. Internet Explorer of ander soekers kan ook gebruik word om in te teken vir die SARL/ARMI Podcast. Stuur asb. rapporte aangaande u ondervindings per e-pos aan armi@sarl.org.za.

NUWE IARU STREEK 1 UITVOERENDE KOMITEE NEEM DIE LEISELS OOR

Ingevolge die konstitusie van Streek 1 van die Internasionale Amateurradio-unie, het die uitvoerende komitee wat tydens die Streekvergadering in Cavtat in November 2008 verkies is, op Woensdag 31 Desember 2008 die leisels oorgeneem.

Hans, PB2T, die president, en Dennis, ZS4BS, die sekretaris, reis volgende week Engelandtoe vir die oorhandiging tussen hulle en Ole, LA2RR, en Don, G3BJ, die uitgetrede president en sekretaris. Die eerste UK-vergadering word beplan vir die einde van Februarie.

HUNTING LIONS

Die 38ste Jaarlikse Hunting Lions in the Air-kompetisie vind plaas oor die naweek van 10 en 11 Januarie 2009. Dit is ‘n 48-uur-kompetisie op 160, 80, 40, 20, 15 en 10 meter met ESB, GG en digitale moduswerking. Echolink mag ook gebruik word. Deelnemers kan lede van die Lions-organisasie wees wat radioamateurs is, of radioamateurs wat namens ‘n Lionsklub ‘n stasie oprig, of ‘n kortgolfluisteraar.

Die volledige stel reëls kan afgelaai word vanaf die HF Happenings-bladsy op www.sarl.org.za.

HF-VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak die komende week baie laag gaan wees. Die geomagnetiese veld sal kalm wees. Die voorspelde effektiewe sonvlektelling sal gedurende die komende week minder as 5 wees.

15 en 20 m is die beste keuse vir DX met moontlike openings van 10, 15 en 20 m vanaf 12:00 SAT na Indië. 15 m-kontakte met Nieu-Seeland gaan vir 'n kort rukkie om 08:00 moontlik wees en 20 m-kontakte om 18:00. Om 08:00 en weer om 14:00 is daar moontlike flou 20 m-openinge na Australië. Kontakte met Peru is baie onwaarskynlik. Brasilië kan waarskynlik vanaf 18:00 op 20 m gewerk word. Vanaf ongeveer 18:00 is daar moontlike kort, swak 20 m-openinge na Europa. Kontakte met die VSA se Ooskus is vanaf 20:00 op 15 m moontlik. 10 MHz lyk laatmiddag en na sononder bruikbaar vir die Morsekode- en digitale entoesiaste.

Plaaslike toestande gaan gedurende die dag op 40 m goed wees. 80 m behoort vroegoggend en laatmiddag goeie resultate oor die korter afstande, byvoorbeeld tussen ZS5 en ZS6, te lewer. 30 m sal gedurende die middel van die dag goeie resultate tussen ZS6 en ZS1 lewer. Selfs 20 m word ‘n bietjie wakker voor oggendtee. Saans is 80 m die beste keuse. Met somer hier kan geraas weens donderstorms en statiese ontladings ‘n bietjie uitdagend wees.

Onthou dat hierdie net 'n voorspelling is en dat HF jou in die nuwe jaar aangenaam kan verras. Skakel jou stel aan, luister en roep ook CQ om seker te maak dat jy deel van die opwinding is.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

Ten slotte:

DAGBOEK VAN GEBEURE

10 en 11 Januarie – "Hunting Lions on te Air";
16 tot 18 Januarie – PEARS BHF-/UHF-kompetisie;
31 Januarie – Mosies en agenda-items vir die SARL 2009 AJV moet in wees;
Gedurende Januarie – Stuur nominasies vir SARL-toekennings in;
15 Februarie – sluitingsdatum vir inskrywings vir Tinus Lange-toekennings.

SARL-nuus nooi klubs en individue uit om nuusberigte wat vir radioamateurs en kortgolfluisteraars van belang is, in te stuur. Indien moontlik, plaas nuusberigte in beide Afrikaans en Engels op www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateur Radio Mirror International, wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 590 kHz. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na ‘n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur Dennis, ZS4BS, saamgestel is.

Dankie dat u geluister het. 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003